Vir die van julle wat my gevra het om die Istanbul lughawe storie ook op Reg of Weg te plaas, hier is hy nou:
Ons is terug van Turkye met bietjie bruiner maar ook breër lywe. Met ‘n besliste byt in die lug, rooibruin blare op die fietspaaie en reëndruppels wat elke nou en dan resies jaag na moeder aarde het Herfs ons op die lughawe ingewag. As ons maar net die sonskyn kon bottel en saambring. Ek lag egter in my mou, want ek hoef omtrent nie eers my tas uit te pak voor my volgende wegbreekweek in Italië (hierdie keer bly Manlief by die huis en ontmoet ek my beste skoolmaat in Milan).
Soos altyd is daar baie om te vertel wanneer mens na ‘n eksotiese land reis waar die taal heel anders is waaraan jy gewoond is. Die beste storie is seer sekerlik die een van ons bloutjie met busry oppad na die lughawe vir ons interne vlug van Istanbul na Dalaman (lughawe naby Fethija by die see). As skrywer sal ek Manlief se rol in die sage bietjie aandik en myself heeltemal verontskuldig, want niks is ooit die vrou se skuld nie (of hoe?!).
Na 2 dae in Istanbul is dit tyd vir ons om aan te skuif na die son-see-strand-gedeelte van ons vakansie. Die toerismeburo se omie raai ons aan om met die tram te ry tot aan die einde van die lyn, dan die funikulêr te vat na ene Taksim Square en dan ‘n bus daarvandaan tot by die lughawe. Hy merk Taksim Square op ons kaart en skryf Havaş langsaan en beduie met ‘n glimlag dat ‘n taxi veels te duur is en dat jy ook nooit seker is of jy ooit daar sal uitkom nie. Suinig soos ons is hou ons van die goedkoop opsie van publieke vervoer en voel selfversekerd dat ons sal regkom.
Alhoewel ons vlug eers 10h55 die oggend is, staan ons vroeg op en is ons al die Saterdagoggend 7 uur uit by die hotel se voordeur. Ons het ook die vorige dag sommer met die tram tot aan die einde van die lyn gery om te kyk waar die funikulêr is en waar ons kaartjies kan koop, so sonder enige drama bereik ons Taksim Square. Waar jy ook al kyk staan verskillende busse, so Manlief stap maar na een van die busbestuurders en vra watter bus ons moet vat na Sabiha Gocken Havalamani (lughawe).
Sonder aarseling antwoord die busbestuurder dat ons nommer 96T moet vat en wys na die oorkant van die sirkel. Manlief vat die voortou en is ons net betyds om die bus te vang. Ek vra met die inklimslag of die bus na die lughawe gaan en die vriendelike busbestuurder antwoord ja (ek dink ek het die naam Sabiha Gocken genoem, maar kan nou nie met sekerheid sê nie…….). Manlief spring net in en daar gaan ons (vergeet skoon om soos gewoonlik dubbeld seker te maak).
Vir die van julle wat nog nie die voorreg gehad het om na Istanbul te reis nie is dit belangrik om te weet dat daar 2 lughawens is, die Ataturk Havalamani vir internasionale vlugte aan die westekant van Istanbul en die Sabiha Gocken Havalamani vir binnelandse vlugte aan die oostekant. Vanaf Taksim Square vat dit ongeveer 45 minute met ‘n bus na beide lughawens en aangesien hulle in teenoorgestelde rigtings van mekaar is, sal dit seker so bietjie meer as ‘n uur en ‘n half vat om van die een lughawe na die ander te ry.
Vir die eerste 30 minute van die busrit verkyk ons ons aan die omgewing, neem ‘n vinnige foto van ‘n ou stadsmuur wat verbyglip en vergaap ons weereens aan die honderde olietenkers wat in die baai geanker lê. Dit is juis hierdie olietenkers (aan my linkerkant) wat my aan die wonder sit oor of ons in die regte rigting ry, want ek onthou toe ons geland het by Ataturk Havalamani dat die see met die olietenkers aan my regterkant was. Soos ons ry sien ek egter die padborde verwys na die Ataturk Havalamani, maar snaaks genoeg vat ons nooit daardie afdraaie nie so ek besluit ek is seker maar net onnodiglik senuweeagtig.
Na nog so 5 minute besluit ek egter om my gedagtes met Manlief te deel. Hy is egter self nie seker nie en besluit toe om seker deur die busbestuurder te vra of ons wel oppad is na Sabiha Gocken Havalamani.
En daar is dit ook toe so, die busbestuurder sê nee, ons is oppad na Ataturk Havalamani!!!!! Net daar sak ons moed in ons skoene, want daar is nie ‘n manier hoe ons betyds sal wees vir ons vlug nie as ons al die pad moet ry tot by Ataturk Havalamani en dan weer terug na Sabiha Gocken Havalamani. Ek kyk toe maar vir Manlief en Manlief kyk vir my, want wat anders kan ons nou doen.
Die volgende oomblik stop die busbestuurder langs die hoofweg, wys vir ons om uit te klim en mompel in gebroke Engels dat ons ‘n taxi moet vat terug na Taxim Square en vandaar weer ‘n bus moet kry. Soveel vir geld spaar om nie taxi te ry nie!
Hy los ons egter nie net daar aan die verkeerde kant van die hoofweg en ry verder nie, maar help ons oor na die anderkant van die hoofweg en probeer ‘n taxi vir ons af te trek. Die taxi jaag egter verby, maar so minuut later sien hy ‘n bus aankom en spring omtrent binne in die baan om seker te maak die bus stop. Hy verduidelik aan sy kolega dat ons eindlik na die ander lughawe oppad is en dat ons saam met hom moet ry tot by Taxim Square.
So beland ons toe op ‘n bus terug na Taxim Square. Teen hierdie tyd is dit seker so 8h45 en bietjie minder as 2 ure voor ons vlug vertrek vanaf Sabiha Gocken Havalamani.
Uit dankbaarheid vir hierdie ongelooglike vriendelike bystand bied ons aan om ‘n nuwe buskaartjies te koop, maar die tweede busbestuurder weier dat ons weer betaal. Ongelooflik om te dink dat al die ander passasiers geensins ongelukkig was dat die busbestuurders ons gehelp het en hulle laat wag het nie, ’n Paar het selfs probeer om vir te verduidelik watter bus ons na Sabiha Gocken Havalamani moes vat vanaf Taxim Square.
En raai wat, die Havaş naam wat die toerismeburo se omie op ons kaart geskryf het is toe al die tyd ‘n busmaatskappy wat ry tussen Taxim Square en die lughawens. Sou gaaf gewees het om dit voor die tyd te geweet het! Oppad terug na Taxim Square probeer ons natuurlik die blaam om mekaar te plaas, want nie een van ons wil verantwoordelik wees as ons die vlug mis nie.
Terug by Taxim Square beduie die busbestuurder vir ons waar ons die Havaş busse sal kry en hardloop ons met tas en al dat die stof so staan om vinnig daar uit te kom. Weereens geseënd vertrek daar ‘n Havaş bus 15 minute later en kan ons die boude ‘n bietjie ontspan. Dit is hier waar ek seker moet erken dat ek dalk net lughawe gesê het vir die eerste busbestuurder, maar ek kan nie onthou nie……MAAR Manlief moes beslis ook seker gemaak het so hy was eindlik die oorsaak!
Na ‘n hele paar skietgebedjies, en nog ‘n draffie na die inboektoonbank, was ons net betyds om in te boek. Daar was selfs tyd om ‘n vinnige Turkse broodjie af te wurg met ‘n blikkie koeldrank voor ons op die vliegtuig moes klim en het ons maar net kop geskud en gelag nadat die vliegtuig opgestyg het.
* oorspronklik geplaas op Om te Wonder
Ons was toevallig een dag in Istanboel aangesien die vlg met een dag vertraag was agv aswolk. Sjoe, WAT ‘N BELEWENIS! Maar ek bewonder julle wat so met die publieke vervoer reggekom het. Wat ‘n lekker storie!
Defintief een van die mees opwindendste stede wat ons besoek het…….bly jy het die storie geniet!