Hier gaat ons – 27 Desember 2011

Sleutelwoorde

, , ,

Met ‘n traan in die oog, maar ‘n huppel in ons stap groet ons Fokke Simonszstraat 6 II, ons tuiste vir die afgelope 4 jaar.

Ons kan nie anders as om met gemengde gevoelens afskeid te neem nie. Amsterdam is ‘n fantastiese stad om in te werk en te bly. Met haar kanale, fietse en kleurryke persona het sy in ons harte gekruip en is daar geen twyfel dat ons haar gaan mis nie.

Die laaste paar dae kon ons vir oulaas Kersfees vier in Zutphen en Amsterdam saam met ons vriende en familie wie agterbly in Kaasland en was dit bittersoet om vir hulle totsiens te sê.

Dankie tog vir skype, facebook, instant chat en goedkoop vlugte wat vorentoe goed benut sal word om die aftand te laat krimp.

27 Desember 2011 – ons vlieg met Air Baltic vanaf Schipol, Amsterdam via Riga, Latvia na Dubai, UAE. Na sowat 7 ure in die lug land ons in Dubai – 3 uur in die oggend Dubai tyd en 3 ure tydsverskil met Amsterdam.

Chaos begroet ons by die visa afdeling. Honderde passasiers moet eers vir ‘n oog scan gaan alvorens hulle toegelaat word om deur paspoort kontrole te gaan. Almal is moeg, humeure is kort en die Arabiere is nors …. wenresep vir ‘n paar onderonsies.

Na ‘n uur en ‘n half se gedruk in die bondel is ons deur om daarna nog 45 minute in die ry te staan vir ons paspoort stempel. Ons sakke lê egter geduldig vir ons en wag na meer as 2 ure op die bagasieband.

Silwer randjie is dat teen die tyd loop die metro al amper en kan ons koers kry na ons hotel.

Nog nooit was ons so bly dat ons ‘n ordentlike hotel geboek het nie – nie net is die hotel reg langs ‘n metro stasie nie, maar ons kry ons hotelkamer net na 8 uur al is die tyd vir inboek eers na 12 uur.

Niks soos ‘n lekker warm stort en ‘n paar ure slaap in ‘n donker kamer om die batterye te herlaai nie – Dubai hier kom ons.

STATS

Waar is ons nou? Auckland, New Zealand

Dae op reis? 8 dae

Totale vlugtyd? 4 vlugte met 25 ure in die lug en 16 ure op lughawens (41 ure)

Top 3 van eerste week? Besoek aan die Wild Wadi Waterpark langs die Burj Al Arab, Dubai Mall/Burj Kalifa en die Jumereih Beach Resort (Dubai)

20120103-093453.jpg

20120103-093555.jpg

20120103-093632.jpg

Advertisements